
Die Burger
Danie Schreuder
26/07/2010
Al van die eerste bladsy van hierdie opspraakwekkende boek is dit duidelik Bloch weet waarvan hy praat. Een van die belangrikste komponente van ’n reddingspoging van ons onderwysstelsel wat diep in die moeilikheid is, is konstruktiewe debat – en dié boek is noodsaaklik daarvoor.
Die titel is goed gekies – ’n mens kan dadelik die beeld visualiseer: Ons onderwysstelsel is inderdaad soos ’n ding wat gif ingekry het.
Baie komplekse toksien, wat stelsels aanval en verlam. En waarvoor genesing ’n lang, en komplekse proses kan wees.
Sowat 60% tot 80% van Suid- Afrikaanse skole kan vandag as disfunksioneel beskou word. Daar is geen tekort aan bewyse van hoe swak die SA onderwysstelsel vaar nie. Internasionale vergelykings gegrond op lees-en-skryf-kennis, syfer- en wetenskapvaardigheid bewys duidelik SA kinders haal nie die paal nie. Hulle is dikwels die swakste in die hele Suider-Afri- kaanse streek en Afrika in die geheel. Dit ondanks die beter hulpbronne van Afrika se mees geïndustrialiseerde nasie.
Miljoene word gemors, swak of glad nie spandeer nie, of eenvoudig gesteel. Feit is, dit kom nie by die leerders uit nie.
Dit is ironies dat ná die eerste demokratiese verkiesings die armes in die land deur die onderwys nog verder benadeel is, en dat hierdie stelsel juis bydra tot onbekostigbare ongelykhede en onenigheid.
Hoewel die regering op sommige gebiede goed presteer het, is daar nog te veel gebiede waar die geriewe en dienslewering nie bevorderlik vir leer is nie. Oor die algemeen het die nuwe kurrikulum ’n geslag kinders opgelewer wat nie kan lees of basiese syfervaardigheid bemeester het nie.
Oor-ambisieuse kurrikula, ondeurdagte afleggings en die onvermoë om entoesiasme en kundigheid in die burgerlike gemeenskap in die ontwikkeling van ’n nuwe onderwysstelsel te betrek, is enkele probleemgebiede wat Bloch noem. Hy verswyg egter die entoesiasme, ervaring en kundigheid wat in die akademiese wêreld oor die hoof gesien is.
Bloch begin die boek met ’n verkenning van die historiese ontwikkelinge wat littekens op die stelsel gelaat het. ’n Irriterende
romantisering van inheemse volke en “onderwys” in pre-koloniale tye, en ’n geykte verdoeming van Sending-onderwys is steurend en na díe leser se oordeel aanvegbaar.
Hy gee ’n oorsig oor die ontstaan en gevolge van die Bantoe-onderwyswet (1953) wat aanleiding tot verset teen die
vernederende en uiters diskriminerende onderwys- praktyke van die daaropvolgende 30 jaar gegee het. Dit het direk tot die 1976-opstande, en uiteindelik tot landwye verset en onrus en twee noodtoestande aanleiding gegee. Hy skets vervolgens ernstige probleme in die stelsel – van swak administrasie, gebrek aan gehaltebeheer tot ’n gebrek aan kundigheid en vaardighede by amptenare en onderwysers. Onderwyser-salarisse is te swak om goeie mense na die beroep te lok. Opleidingsinstansies is nie behoorlik ondersteun in die aanbied van ontwikkelingsprogramme nie. Bloch spreek hom sterk uit teen onderwysers-vakbonde wat veg vir regte en voordele, maar stom is oor onderwysers se sosiale verantwoordelikheid en hul bydraes tot ontwikkeling.
Hy staan krities ten opsigte van desentralisasie van onderwysbeheer.
’n Addisionele laag van provinsiale amptenary tussen die nasionale departement en skole skep ruimte vir onderspandering en selfs korrupsie. Die skooldistrikte-konsep blyk ook nie ’n geslaagde eksperiment te wees nie.
Dit laat egter dadelik die vraag ontstaan of dit strukture is wat nie funksioneer nie. Lê die probleem nie by mense nie? En is die mense wat strukture kan laat werk, dan werklik nie beskikbaar nie? Hy erken die akademici, navorsers en konsultante wat die argitekte was van ’n nuwe onderwysbedeling gekies is uit kaders, en uit dissidente van veral Engelstalige universiteite, en dat diegene vermoëns en realiteite oor-romantiseer het.
Bloch stel ’n tienpuntprogram vir ’n onderwyspadkaart bekend, wat deur Obsa in samewerking met die ANC, onderwys-vakbonde en organisasies, en ander betrokkenes saamgestel is. Hierin word uiteengesit wat op skoolvlak, op die gebied van skole-ondersteuning, en ten opsigte van gemeenskappe gedoen behoort te word om die situasie om te keer.
Die lees van die boek laat ’n kritiese leser – veral een wat aktief betrokke was by die vroegste fases van die inwerkingstelling van die onderwysbedeling ná 1995 – met ’n klomp emosies. Daar is opmerklik blinde kolle in die boek, wat waarskynlik die kernkomponente van die gifmengsel kan wees. Die vernaamste blinde kol is die skrywer se verswyging van die fatale fout om een ideologies gedrewe onderwysbedeling met ’n ander te vervang, en die inwerkingstelling daarvan boonop in die hande van onbevoegde mense te laat.
TAFELBERG-UITGEWERS, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 192 BLADSYE.)
Danie Schreuder is ’n skrywer en afgetrede professor in opvoedkunde.