
Die Burger, 15 Augustus 2010
Jaybee Roux
15/08/2010
In hierdie chick lit-roman deur Marion Erskine (hy het ook al ’n jeugroman, Oos, agter die rug) sit Zoë Oukersaand alleen by die huis. In haar desperaatheid wend sy haar tot ’n rekenaar-kletskamer vir enkellopendes. Daar ontmoet sy vir “Donatello”. Maar kan ’n rekenaarvryery op iets blywends uitloop?
’n Persoonlike ontmoeting is onafwendbaar. Hierdie ontmoeting is een van ’n rits skreeusnaakse situasies wat met groot entoesiasme deur die skrywer aaneengeryg word.
Erskine is ’n bok vir sports en niks gee hom soveel plesier as om die pret wat hy met die skryf van hierdie boek gehad het, met lesers te deel nie.
“Rekenaarliefde” is ’n interessante katalisator wat tot baie intriges aanleiding kan gee. Maar die éintlike dilemma is twee mense wat glo hulle is lief vir mekaar en mekaar seksueel aanvul, maar uiteenlopende persoonlikhede het. Zoë rits op haar Vespa rond en bied jogaklasse vir swanger vroue aan. Sy moet telkens uit die een of ander penarie gered word, klits haar Afrikaans en Engels deurmekaar en deel ’n huis met haar gay boesemvriend.
Donatello, oftewel Anton, is ’n advokaat wat suiwer Afrikaans praat. Hy ry ’n duur motor en hou van orde en stabiliteit. Die onsekerheid oor hóé Zoë en Anton gaan leer om oor die weg te kom, hou ’n mens aan die lees.
Afgesien van die aansteeklike energie en humor en die vermoë om regtig sexy te skryf, kom die newekarakters – onderskeidelik ’n gewigtige huiswerker en gay huismaat – oortuigend oor. Die humor lê daarby nie slegs in teenstellings en situasies nie, maar ook in die sêgoed, byvoorbeeld: “Anton is so omgeslaan soos ’n ou posbus in ’n rukwind op ’n Noord-Kaapse kleinhoewe”.
Tekortkominge is daar ook. Die kleiner jakkalsies kon ’n mens oorsien as daar nie so báie was nie, byvoorbeeld “karma” wat op bladsy 17 met ’n hoofletter gespel word; “uitgegooi” op bladsy 128 moet “oopgegooi” wees; “vreemde noodhulpwerker” op bladsy 139 moet “onbekende noodhulpwerker” wees. Op bladsy 146: “Is dit moontlik om op een dag sulke laagtepunte te beleef?”– dié sin maak nie sin nie.
Die geradbraakte Afrikaans wat deur Anton se huiswerker gepleeg word, word lankal nie meer in ontspanningsfiksie geduld nie. Op bladsy 90 word bloot genoem dat Anton en Zoë mekaar soen – in die liefdesgenres wil lesers so ’n soen voluit saam met die heldin beleef.
Stylfoute soos die perspektiefbreuke op bladsy 173 en onderaan bladsy 187, is volop.
Sommige lesers sal voel die skrywer probeer soms té hard om lesers te laat lag (’n toneel waar Zoë in ’n Cleopatrakostuum by ’n restaurant aankom, voel byvoorbeeld gedwonge).
Donatello en Volksie sou beslis baat by ’n deegliker redakteurshand, veral aangesien die skrywer relatief onervare is. Maar indien jy enigsins depressief voel, sal hierdie boek jou beslis opbeur.