Human & Rousseau


Sign up for our newsletter!
Bookmark with...

Author Focus

Authors List

Marnus Hattingh

Biographical info

Marnus Hattingh ken meer van V8’s as van vroue en verhoudings.” Dis wat my laaste vriendin met ‘n toeklappende deur gesê het, maar as ‘n motorjoernalis in Kaapstad sal ek dit as ‘n komplement beskou. Motors is kompleks, maar hul werking darem konsekwent.
 
Ek het in Bellville in die Kaap grootgeword, maar ná matriek die Hexrivierberge oorgesteek, na die Groot Plat Onbekende, om by Kovsies (Universiteit van die Vrystaat) die koshuislewe te ervaar. Aanvanklik was Teologie my studierigting, maar vyf jaar later en gewapen met ‘n meestersgraad in Hebreeus het ek besef nòg die gemeente nòg ek gaan sin sien in hierdie persoon op die kansel. 
 
Dis toe dat ‘n Bolandse vriendin sê “jy skryf sulke mooi briewe, kom studeer joernalistiek hier op die Bos.” En so, na nog ‘n dolle, genotvolle jaar agter die boeke, het my loopbaan as verslaggewer by Die Burger in Kaapstad begin. 
 
Dis nou al tien jaar wat ek elke week oor karre skryf. Maar motors is meer as net wiele en ‘n wilde V8. Dit omvat my ander passies ook: die ekonomie, reis, skeppendheid, enne, vroue. Motors is ‘n kunstige uitdrukking van vorm en funksie, en die woorde waarmee jy dit beskryf moet dieselfde doen: Passievol en fleurig, maar sonder om jou as tussenganger-joernalis te ernstig op te neem. 
 
Danksy my werk kon ek heelwat reis en nuwe plekke leer ken. Elke jaar neem ek my ou bergfiets, laai hom met ‘n tent en slaapsak in ‘n Boeing, en gaan trap ‘n Mediterreense eiland plat. Of in die Himalaja in Tibet. Jip, soos ‘n Nepallese nagklub is dit sweterig en goedkoop, maar ook ‘n gawe ervaring. Ek versamel Belgiese bierbekers, geniet enige Hugh Grant-fliek en dink Tintin is beter as Asterix. Oor naweke sal ek ‘n oggenddraffie neem voor ek die Bolandse plaasmarkte fynkam op soek na Boerenkaas en fudge. A, goeie kaas en fudge. Die ander twee konstantes in ‘n wêreld van wilde V8’s en wilder meisies. Wel, solank dit net die universum gebalanseerd hou is ons tevrede, reken ons.  
 
 

Books By This Author